
Wie is ons?
Die verhaal van Laerskool Courtrai begin met die stigting in 1970. Teen 1976 het die skool gegroei tot ‘n parallelmedium laerskool en tans ontvang meer as 700 sleerders van graad R tot graad 7 jaarliks gehalte-onderwys met godsdienstige beginsels.
Die naam Courtrai word ontleen aan een van die oorspronklike plase wat aan afstammelinge van die Franse Hugenote behoort het. Die besondere skoolkleure (blou en rooi) beklemtoon hierdie Franse verbintenis.
Die skoolwapen is geïnspireer deur die stadswapen van die Vlaamse stad, Kortrijk – vroeër deel van Frankryk. Die rooi keper wat in die wapen voorkom, word algemeen deur die skool gebruik as identifiseringsimbool. Drie pêrels versier die keper en stel die drie rotse (standvastigheid) op Paarlberg voor. Die leuse, Fide et Virtute, vry vertaal, simboliseer die deugde, Geloof en Moed.
Die skool is in ‘n gevestigde woonbuurt geleë met ‘n pragtige uitsig oor die Drakensteinberge.
Sedert 1983, na voltooiing van die uitbreidings aan die skoolgebou, beskik ons oor al die moderne geriewe om skoolopvoeding in totaliteit te beoefen. Ruim geleentheid word aan alle leerders gebied om hul talente te ontdek, te ontwikkel en te beoefen.
EIke leerder is ingedeel by een van drie spanne, nl. Laborie (wit), Picardie (rooi) en Altenburg (blou). Op verskeie terreine bou dit spangees en algemene meelewing onder die leerders.
Dit is vir Laerskool Courtrai baie belangrik om deur toewyding en noue samewerking tussen huis en skool net die beste aan ons leerders te bied. In die verband word gereelde kontak tussen personeel en ouers aangemoedig, en u as ouers word genooi om oueraande en -funksies getrou te ondersteun.