“Sports teaches you character, it teaches you to play by the rules, it teaches you to know what it feels like to win and lose – it teaches you about life.” – Billie Jean King

Laerskool Courtrai is ‘n gebalanseerde skool wat ook in skolesport uitblink. Ons bied ‘n wye verskeidenheid sportsoorte aan en glo dat leerders aan soveel as moontlik sportsoorte blootgestel moet word om sodoende ‘n wye verskeidenheid vaardighede te ontwikkel.

Ons buitemuurse program word gevolglik so opgestel om leerders te akkommodeer wat graag aan meer as een sportsoort in ‘n enkele week wil deelneem. Leerders kan deelneem aan atletiek, hokkie, krieket, landloop, netbal, rugby, skaak, en tennis.

Atletiek

Courtrai bied gedurende die eerste en vierde kwartaal atletiekafrigting aan alle leerders.

Die atletiekjaar skop af met die Interhuisbyeenkoms waar leerders in hul kleurspanne teen mekaar meeding.

Die skool skryf jaarliks meer as 90 leerders vir die Sonebyeenkoms in.  Na hierdie byeenkoms  dring leerders deur na die Paarl Finaal, Boland Sentraal, Boland en Wes-Kaap byeenkomste.

Courtrai spog in 2022 met 3 Wes-Kaap atlete wat aan die SA Kampioenskappe deelneem.Tydens hierdie byeenkoms behaal die drie leerders twee goud, een silwer, een brons en een vierde plek.  

Ons neem ook aan ’n reeks vriendskaplike byeenkomste deel en in 2022 sal ons die eerste maal ‘n  Prestige Byeenkoms aanbied.

Tennis

Alle graad R leerders kry gedurende skoolure afrigting in basiese tennisvaardighede.
Vir die res van die skool is daar huidiglik 14 spanne wat op ‘n gereelde basis wedstryde speel.   Ons bied jaarliks die Courtrai Tennistoernooi aan, met 64 deelnemers wat van tot so ver as Oudtshoorn kom.
Die o.11 en o.13 spanne neem gereeld aan toernooie deel.
Courtrai spog in 2022 met  6 Bolandspelers waarvan 1 speler gekies is om aan die Nasionale Toernooi deel te neem.

Swem

Ons leerders swem tans almal by privaat klubs.  Swemmers neem deel aan verskeie galas, waarvan die Interhuisbyeenkoms die eerste van swemjaar is.  Die Courtrai Prestigegala is ’n hoogtepunt vir ons swemmers.

Krieket

Laerskool Courtrai bied Mini-krieket aan vir die grondslagfase leerders. Graad R ontvang afrigting in balvaardighede tydens skoolure.  Gr.1-3 leerders neem deel aan ‘n verskeidenheid mini-krieket toernooie wat deur buurskole aangebied word. 

Ons skool se krieket presteer puik die afgelope paar jaar en ons spog met 15 krieketspanne.  Ons o.12 en o.13 krieketspelers kry die geleentheid om ook aan Boland proewe deel te neem

Netbal

Ons spog met 28 spanne wat aan ‘n kompeterende liga deelneem.  Verder neem ons aan verskeie sportdae deel, waar spelers die geleentheid kry om teen sterk skole in die Wes-Kaap te kompeteer.  Die hoogtepunt van die jaar is ‘n toer na Oudtshoorn, asook die jaarlikse Bredasdorp Vriendskapsnaweek.  Ons o.12 en o.13 A en B spanne neem hierdie jaar ook aan die Riebeeck Kasteel vakansietoernooi deel. 

Rugby

Ons spog met 15 spanne wat gedurende die 2022 seisoen aan die WP liga sal deelneem. Die hoogtepunt  van die jaar is ‘n toer na Oudtshoorn, asook die jaarlikse Bredasdorp Vriendskapsnaweek.

Hokkie

Hokkieafrigting vind gedurende kwartaal 2 en 3 plaas, met meer as 38 dogters- en seunspanne.

Ons neem deel aan provinsiale proewe met ons o.13 seuns en dogters, asook vriendskaplike wedstryde vanaf o.7 tot o.13.

Skaak

Ons is baie trots op die groot getal jong spelers wat in uitstekende skaakspelers ontpop het. Ons spelers neem jaarliks aan ‘n skaakliga deel. Daar word ook gereeld werkswinkels aangebied om vaardighede te ontwikkel. Ons sluit ons jaar af met ’n Vriendskapsnaweek teen Bredasdorp.